Goue lokkies en die storkpartie

Goue lokkies en die storkpartie
storkpartie

“Laat ek jou eers vertel van die storkpartie”, Goue Lokkies en ek sit op ‘n dag en tande tel in my kantoor: ”My tannie Baba het my ma laat weet ek moet haar skoondogter se ooivaarstee reël. Waarom weet ek nie, want die uitnodigingsbriewe word vir my gegee om uit te skryf, maar die adresse is nie reg nie. “Nee” sê my tannie, “Jy kan maar net die adres half invul, dan sal ons die res doen”. Goue Lokkies se neus kreukel vies, “Hoe dink jy lyk dit? By dit alles dra my tannie heeltyd vir my geskenkies aan en ek voel so simpel, want saam elke geskenkie kom ‘n opdrag. Dis ‘n geval van “ek doen vir jou iets en dan doen jy weer vir my iets”. Hierdie keer vir briefies halfpad uitskryf!”

“’n Saterdag voor die tee, dink ek my stom oor die organisasie daarvan,” beduie Goue Lokkies verder met sulke oop hande, “Terwyl ek beplan dat almal in die sitkamer bymekaarkom, het Tannie Baba haar eie planne en besluit op die kombuis as onthaalarea. Sy sê sy sal die een tafel uitvat, maar daar is nie eers ‘n deur in die kombuis is nie, net sulke ‘n “arches”. Die gaste moet nou op so op ‘n hopie sit en as die aanstaande mammie inkom, moet hulle maar uitskuif. Waarheen weet ek nie!”

“Met die aankoms van die gaste, skryf ek op Tannie Baba se aandrang vir almal naamkaartjies uit. Die gaste (almal familie) kyk my skeef aan oor die kaartjies én die hoopsittery in die kombuis. Later sê ek net: “Ek kan nie help nie, ek voer net die orders uit!” Intussen moet dit ‘n girliepartie wees want die aanstaande mammie het al haar verwagtinge op ‘n dogtertjie gestel. Ek het ballonne met die boodskap “It’s a girl” gekoop en terwyl ek dit bo-op ‘n stoel vir die mammie sit, is die groottantes besig om die laaste eetgoedjies op die tafel uit te pak”. “Is jy nou darem opgewonde oor die kindjie?” vra een van die groottantes. “Ja man!” sê my tannie, “Sy moet seker wees, want sy’t so gehuil die vorige keer toe sy gehoor het sy’s nie swanger nie”. “Nee man”, hyg die groottante, “Ek praat van jou!” My tannie druk ‘n tert teen haar maag en kyk haar met ‘n vasberadenheid aan: ”Ja, ek wil net ‘n dogtertjie hê!” My ma, wat ook koek uitgepak het, bars uit van die lag: ”Mens sou sweer dis jy wat die kleintjie gaan kry!”

“Die aanstaande mammie het nog nie van haar vorige huilery herstel nie, want toe sy by die deur instap en al die gaste om die “arches” sien, gaan sy aan’t gille. Ek begin my net daar bietjie vir bietjie te strip. ”Ek gaan nie in nie, ek gaan nie in nie!” gil sy. “Dan’s sy in en dan’s sy uit. Sy kom nie verder nie en die gaste sit met oop monde die spektakel en dophou. Tannie Baba sê later luid: ”Bly nou stil, kry jou sit!” Sy’s gewoonlik vir my te kras , maar op daardie oomblik wou ek net halleluja skree. Met al die commotion moet ek nog met gebed open, terwyl ek nog nooit by ‘n storkpartie was waar mens bid nie. Toe aanvaar ek die geleentheid en bebid die babatjie”.

“Met die oopmaak van die pakkies, word sy aangesê om nie volgens tradisie te raai nie, maar net die persoon wat die geskenk gegee het, te bedank . Met dié ontstaan die volgende commotion. Met elke pakkie wat sy oopmaak, giggel sy en dit hou net nie op nie! Ek bid later: ”Ag kan dit nie maar die laaste pakkie wees nie, want my senuwees gaan dit nie hou nie!”.

Ek lag vir Goue Lokkies en haar emosionele familie en kry ‘n lustige klap oor die kop: “Jy sou ook so gebid het met al daai baie pakkies!” “Huil julle?” vra die dominee toe hy inkom.

“Hoe het die partie geeïndig?” vra ek nuuskierig om te hoor hoe die drama afgeloop het. ”My een niggie se vriendinnetjie het ‘n liedjie, waarvan ek nie ‘n woord kon uitmaak nie, gesing. Toe eet ons. Al die eetgoed was pienk. Niemand wou van die koekies eet nie, want tot die room was skelpienk. ‘n Gefuif in pienk!

Intussen was pienk geskenkies ‘n aansteeklikheid in Goue Lokkies se familie. Sedert die partytjie het sy onverwags lyf aangesit en nou word daar uit alle oorde vir haar pienk pakkies aangedra. En raai, dis my beurt om die storkpartie te organiseer!

Resep:

Pienk kolwyntjies (Flop nooit en rys soos ‘n swanger mammie oppad na haar ooievaarstee).

125g Margarien
¾ koppie strooisuiker
2 eiers
1 ¾ koppie meel
10ml bakpoeier
Knippie sout
1/3 Koppie melk
5ml Vanilla of lemoengeursel

Room margarien en suiker. KLop eiers een vir een by. Vou droë bestanddele by. Voeg melk en geursel by. Vul pienk kolwyntjierhouertjies van papier en bak by 220 Grade Celsius vir ongeveer 12- 15 minute (of tot boepens en bruin).

Sny kolwyntjies in die helfte en smeer met pienk soet room. Vesier met botterversiersel en enige pienk versierseltjies.

Related Posts

Jakkalsies in die wingerd Elke huis het mos sy jakkalsies. In die huis van die Blignauts is een besondere jakkals: Nie ’n rondloperkat wat die duur sitkamerbank merk nie, maar ...
Sushi Nou die dag was my eerste jaareindfunksie in ‘n dekade by “The Cape Town Fismarket se “sushibar” in Port Elizabeth. Al wat ‘n Afrikaner is, weet al ho...
Die liefdesoutjie (met resep) “Wat is matchmaking in Afrikaans”, vra Hendrina? “Dis daai liefdesoutjie wat met sy pyl skiet”, antwoord Mielies terwyl sy haar pen se agterkant kou....
Hurley Burley Wat is Hurley Burley nou weer?” vra Hendrina vir Lana, haar oudste, terwyl haar voorkop plooi soos sy nadink. Die gesin is weer iewers heen oppad en...
 
Comments

No comments yet.

Leave a Reply