Hurley Burley

Hurley Burley
Burlesque

Wat is Hurley Burley nou weer?” vra Hendrina vir Lana, haar oudste, terwyl haar voorkop plooi soos sy nadink. Die gesin is weer iewers heen oppad en soos elke keer as hulle ver ente ry, is die rit die platformt vir informele debatte, kommentaar en twiste oor alles en nog wat. Hendrina het intussen verjaar en na vyf en veertig asook verlaagde estrogeenvlakke kan sy nie meer alles onthou nie.

“ Dis ‘n show met girls. Onthou jy dan nie!””, antwoord Lana, ‘n skaam hoërskoolkind en bloos so dat Hendrina die warmte van agter af na haar toe voel opslaan. Sy draai die motor se verkoeler sommer hoër en die koel lug laat haar geheue weer inskop.

“O Ja! In RSG is die fliek Burlesque bespreek én die tegnieke van die Hurley Burley danseresse wat volgens die joernalis “risqué”, maar tog smaakvolle danspassies uitgevoer het,” herroep Hendrina die radiopraatjie. “Mamma, bly stil !” keer Lana en bloos weer tot diep in haar haarlyn. Sy’s benoud oor wat haar ma volgende sal kwytraak. “ Toe maar, dis nie so erg nie”, paai Hendrina, “Toe ek klein was, was ek ook by ‘n Hurley Burley show”.

“Julle vertel ons nooit interessante stories van julle kindertyd nie”, kla Mielies (die jongste) van agter af en hang belangstellend oor haar pa se stoel. “Wel, my Standerd Twee onderwyser het gedink my storie is interessant. Hy het sommer al die onderwysers in die klasse langsaan geroep om my storie te hoor , sê Hendrina terwyl sy onthou hoe sy as tienjarige kind voor in die klas op die skoolstoeltjie sit en haar vakansiestorie vir die meneer en klas vertel.

“Ons was die Aprilvakansie by Ifafa vakansie-oord in Natal en altyd na ‘n vakasie het ons onvoorbereide mondelinge gehad en moes ons oor die hoogtepunte van ons vakansie praat. Tannie Sophia en Ila (Sophia se jonsus) wat toe net matriek geskry het, was saam. Tannie Sophia se wit bikini-top met die rooi kolle is daardie dag deur die branders weggeslaan en Ila het daardie aand met ‘n bloedrooi gebrande gesig en skouers vol sproete die konsert wat in die oord se saal aangebied is, gaan bywoon. Ons was baie opgewonde, want in die dorpie waar ek grootgeword het, was elke konsert so opwindend soos die beroemde Boswell Wilkie Sirkus wat in die dorp kom tent opslaan het.

Tannie Sophia het intussen haar bikini-top gevind en almal het vir die aand se konsert hulle beste uitgaanklere aangetrek. Ek het daardie aand kiertsregop met my lang wit kouse en swart kerkskoene langs my ma met haar goue sjiffonjassie gesit . ’n Paar manne het flou truuks op die verhoog gedoen, maar ons het nie omgegee nie, want my pa het vir ons elkeen ‘n pakkie Simba Crinkelcut Sout-en-asyn skyfies en Coke uit klein glasbotteltjies wat te gou leeg geraak het, gekoop. Tussen die kouery deur het drie meisies in noupassende blink langbroeke, stewels wat tot by die knieë kom en Cowboy hoede op die verhoog gekom en op ‘n Popliedjie van Smokey begin dans. Die enigste dans wat ons geken het was die van omies met boepies en tannies met gepluisde hare wat styf met haarsproei gespuit was en by troues op Boeremusiek en “Ken jy Ta Mossie van Sonja Herold, gelangarm en gewals het. Hierdie meisies het nie gedans nie, hulle het gerinkhals. Hulle het my laat dink aan Glenda Kemp, ‘n professionele ontklee danseres, wat met ‘n luislang om haar nek gedans het. Ek het een middag skelm van haar in my Pa se Sondag Rapport gelees terwyl hy na middagete gaan rus het,” Hendrina se asem raak skoon op van die vertellery, maar Mielies por haar aan verder aan.

“ In die dansery het die meisies hulle hoede met ‘n knipoog en geswaai van hulle blink lang hare afgehaal en oor die verhoog na die toeskouers gegooi. ‘n Paar manne wat bietjie te veel bier na die middag se braai gehad het, het opgespring en dit sommer in die lug gegryp. My binneste het gekriewel en ek kon voel hoe my ma al hoe stywer en regopper gesit. Na ‘n rukkie het twee van die meisies hulle stywe hempies op die maat van die musiek oopgeknoop en ook oor die verhoog geslinger. Ek kan nie die deel van hulle langbroeke onthou nie. Die laaste wat ek van daardie aand onthou, is dat toe die middelste meisie in ‘n vleeskleurige bikini uit haar laaste kleertjies wil uitspring, my ma dit nie meer kon hou nie. Sy het vorentoe gebuk, haar oë styf toe gedruk en hard-op geskree: ”O Heretjie, vannaand sien ons net broek en bra!” Toe ek by hierdie deel van my storie kom, het my meneer al in die deur gestaan en vir my gevra of ek net ‘n bietjie sal stilsit, want hy wil net gou die ander onderwyseres gaan roep. Ek het baie gehoorsaam my Hurley Burley storie aan hulle vertel. Ouma word nou nog rooi as sy aan daardie aand dink en wou nie eers na die kerkbasaar kort na die vakansie toe gaan nie ”.

Mielies sak terug in haar sitplek en lag terwyl sy handeklap. ”Geluk! EK sal nie weer sê jy vertel vervelige stories nie’. S y draai na haar suster toe,“Sussie waar’s daai popcorn wat Pappa gekoop het. Mamma het my nou skoon honger gepraat. Die dominee vir wie dit maar altyd ‘n uitdaging is om sy oë op die pad te hou, loer na Hendrina, lig sy wenkbrou en vra met ‘n fluister: ”En wanneer Hurley Burley jy vir my?”. Hendrina krinkel haar arms in die lug en terwyl die dominee so fluister, hoor sy RSG op die agtergrond vertel dat Glenda Kemp na meer as dertig jaar weer vir Rapport met ‘n luislang posseer. Sý weet van Hurley Burley.

Resep:

(Bykomstighede vir ‘n Hurley Burley partytjie: Laai ‘n ou bekende van Smokey soos “O, Carol” af en onthou om ‘n Cowboy hoed met fraiings, nousluitende hempie en blink styfspan broek vir die okkasie aan te trek. Blinkleer stewels is ook ‘n moet! )

Gekleurde springmielies (Uit: Partytjies is pret. Annette Human en Tokkie Underhay, 1987)

250 ml springmieliepitte

375ml witsuiker

60ml water

30ml margarien

1ml kleursel

Spring die pitte en plaas in gesmeerde mengbak. Verhit die suiker, water en margarien oor ‘n lae hitte en roer gereeld tot die suikerkristalle opgelos is. Verhit dan die oplossing tot kookpunt en laat vinnig opkook. Haal van die stoof af en voeg kleursel by. Gooi die stroop oor die springmielies en roer deur.

Related Posts

Goue lokkies en die storkpartie “Laat ek jou eers vertel van die storkpartie”, Goue Lokkies en ek sit op ‘n dag en tande tel in my kantoor: ”My tannie Baba het my ma laat weet ek moe...
Sushi Nou die dag was my eerste jaareindfunksie in ‘n dekade by “The Cape Town Fismarket se “sushibar” in Port Elizabeth. Al wat ‘n Afrikaner is, weet al ho...
Die liefdesoutjie (met resep) “Wat is matchmaking in Afrikaans”, vra Hendrina? “Dis daai liefdesoutjie wat met sy pyl skiet”, antwoord Mielies terwyl sy haar pen se agterkant kou....
Jakkalsies in die wingerd Elke huis het mos sy jakkalsies. In die huis van die Blignauts is een besondere jakkals: Nie ’n rondloperkat wat die duur sitkamerbank merk nie, maar ...
 
Comments

No comments yet.

Leave a Reply