Sushi

Sushi
OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Nou die dag was my eerste jaareindfunksie in ‘n dekade by “The Cape Town Fismarket se “sushibar” in Port Elizabeth. Al wat ‘n Afrikaner is, weet al hoe proe Sushi, behalwe Hendrina. Terwyl ek vir die ander wag, sit ek en bekyk die spulletjie wat alreeds om die band woel vanuit my linkeroog . Kort jong oosterse outjies doen die voorbereidings met stoïnse gesigsuitdrukkings, terwyl hulle behendig die spierwit rys op bamboesmatjies rol en papierdun velletjies salm en paling (aaarg!) van reuse visse afskil. Om die band sit alles behalwe kosmopolitane. Almal lyk vir my soos middelklaswerkers in hulle jeans en geruite hemde, behalwe die ouma met haar tienjarige kleindogter. Twee van die mans lyk vir my soos boukontrakteurs (kort net die blou oorpakke en beskermingsdoppie) en dis nogal aardig om te sien hoe manne wat ek met rugby en braaivleis sou assosieer, op sjieke wyse die salmrolletjies fyntjies met die stokkies in hulle monde plaas. Nie soos ek later wat die stokkies soos twee oorpluisies aan mekaar knyp en die estetiese happie lomp in my mond prop nie. Nes ‘n springhaas uit ‘n gat by Lady Slipper.

Maar ek’s mos ‘n slim meisie en leer gou. Ek kon net nie die komkommerskyfie met die salmrepies en “capertjie” mooi beheer nie. Toe ek weer sien, klater al wat ‘n bakkie en sojasous van die tafel af en moet die kelner my gasvrou se coca-cola kom opmop. Sy mop is droog en later is alles om ons taai. Om my verleentheid te bowe te kom, bestel ons gasheer nog ‘n rondte drankies. Daar is borrelwater by elke talfelmatjie, maar almal bestel Fanta en Cream Soda. Kultuurvermenging soos min. Ek kan nie my vereenselwig met Cream Soda saam rou vis nie, Aarg…Aaarg . Om nie my dood te gril nie bestudeer ek die wynlys. Die Cape Town Fishmarket het ‘n allemintige wynlys wat soos ‘n Israeliese geslagsregister lees. Die pryse is net soos edele stoetperde en ek bestel maar ‘n chardonnay van twintig rand, terwyl my mond heimlik gewater het vir ‘n verhoute versnit in ‘n onbekostigbare prysklas.

Terwyl ek vir die drankie wag en om my nog verder gemop word, is ek al weer doenig met die band. Sushi doen dit vir my. Die probleem is die eetgoedjies is reënboogtoebroodjies en gevulde eiers op ‘n boeretroue om vieruur. Dis gewoonlik wanneer ek honger is. Ek kan dan nie stop nie . By alles is elke happie mooier as “petit fours”. Hulle moet net mooier sushimakers kry. Soos die Chippendales met swart hare: Jappandales. Ek het ‘n kompulsiewe streep en ek sal na een vryf oor so ‘n swartkop se blink hare, sonder skroom vir ewig verlore wees.

Sushi is lig in statuur en ek is giggelend en van balans eers na die poeierkamer. Net daar gaan die ligte af, want Eskom ruil weer kragte. Met al die borrelwater en spanning om ‘n sushi gehap te kry, is my knypers nie meer wat dit was nie en vlieg ek by die eerste deur in. “Dis die mans s’n, lag my vriendin. Ek wil nog ‘n grappie maak en soos my pa skree” Lights” wanneer ons skyfies teen die muur gekyk het, maar skielik raak ek bang en soek die deur. Ek weet nie wie’s in die stikdonkerte saam my by die krip nie. “Angelique, help!” skree ek benoud en nog meer in die knyp, “ek kry nie die deur nie!” Sy dra haar selfoon soos ‘n ‘n mansmens ‘n knipmes saamdra en die het ‘n flou liggie wat ons die duisternis uithelp.
Toe’s ek weer van voor af dors en het met my regteroog die tapenyaki roerbraaier gesien. Dink ek sal dit volgende keer uitprobeer en die stoeltjies is laer. Ek sal nie saam my drankie afvoeter nie.

Resep: Boere-sushi (vir die dominee nadat ek vir die okkasie sy gesig soos ‘n Geisha opgemaak het):
Bestanddele:
Engelse Komkommer
Velletjies salm of forel
Sushi rys ( of as jy Hendrina is, gewone rys wat langer en met ’n ligte oordosis water gekook is)
Rys asyn of appelasyn met titsel suiker en sout in bakkie gemeng
Avokado in dun blokkies of repies gesny
Sesame en papawer saad

Ekstra’s:
Eetstokkies wat jy by al die gaste afgebedel het
Hellman’s mayonnaise
Sojasous
Soetsuursous
Wasabi of Horseradish smeer wat jy sommer met groen voedselkleursel tint
Swart, wit of rooi vierkantige borde
Krisante vir agter jou oor (Kiku)

Sny die komkommer in ringe van ongeveer 2 cm. Sny ‘n small driehoekige keep uit elke ring. Sny salm of forel verder in 2,5 cm velletjies met ‘n breedte van 1 cm (Hoe trots sou my pa nou op my wiskunde gewees het!). Vou die velletjies in ‘n klein hopie en plaas op keep. Sit ‘n ‘caperjtie” bo-op. As alternatief kan gevlokte krapvleis, tuna of garaalvleis natgemaak met Hellman’s mayonnaise gebruik word.

Kook die rys volgens aanwysings. Alhoewel die Japanese nie eintlik van sout gebruik maak nie, sou ek ‘n titsel sout bygooi. Laat afkoel en geur met ‘n paar druppels van die asynmengsel. Vorm balletjies so groot soos okkerneute of reghoeke (3-4 cm in omtrek, afhangende hoe groot jou wederhelf se mond kan rek) op gespuite bakpapier of ryspapier op ‘n snybord, want mens kan dit eet as jou sushi daaraan vassit. Versier die ryshopies met vis en snytjies avokado. Sprinkel sesame of papawer saad oor. Die sushi word na die borde oorgelaai met ‘n eierspaan of platlemmes.

Rangskik die sushi in vier op die borde en versier bord met skeppie wasabi en repies peppadew. Bedien met yskoue sodawater of drank na keuse. Ek sou ‘n baie ligte en droë wit wyn aanbeveel. As alternatief sal ‘n droë cider of ligte bier ook die sushi se geur kan aksentueer. Terwyl die dominee die drankies skink, sal ek my swart nommer gaan aantrek en Keiku Matsui se Cherry Blossom speel . Dan sal ek die dominee voer. Miskien sonder die stokkies….

Related Posts

Die liefdesoutjie (met resep) “Wat is matchmaking in Afrikaans”, vra Hendrina? “Dis daai liefdesoutjie wat met sy pyl skiet”, antwoord Mielies terwyl sy haar pen se agterkant kou....
Hurley Burley Wat is Hurley Burley nou weer?” vra Hendrina vir Lana, haar oudste, terwyl haar voorkop plooi soos sy nadink. Die gesin is weer iewers heen oppad en...
Goue lokkies en die storkpartie “Laat ek jou eers vertel van die storkpartie”, Goue Lokkies en ek sit op ‘n dag en tande tel in my kantoor: ”My tannie Baba het my ma laat weet ek moe...
Jakkalsies in die wingerd Elke huis het mos sy jakkalsies. In die huis van die Blignauts is een besondere jakkals: Nie ’n rondloperkat wat die duur sitkamerbank merk nie, maar ...
 
Comments

No comments yet.

Leave a Reply